Studeer Beroepshigiëne

 

 

Wat is Beroepshigiëne?

Beroepshigiëne kan gedefinieer word as die multidissiplinêre wetenskap wat gemoeid is met die antisipasie, identifisering, evaluering en beheer van gevare in en om die werksplek wat nadelig vir die gesondheid van die werkers, die gemeenskap en die omgewing is.

Gaan kyk gerus na ‘n video van die British Occupational Hygiene Society en AIOH vir meer inligting oor Beroepshigiëne.

Vir meer inligting kliek hier.

In Beroepshigiëne word die volgende werksverwante stressors ondersoek:

  • Geraas
  • Vibrasie
  • Elektromagnetiese en ioniserende radiasie
  • Temperatuur
  • Druk
  • Gevaarlike chemiese substanse
  • Gevaarlike biologiese substanse
  • Ergonomie
  • Stof en vesels

 

 

Wat behels die BGW in Beroepshigiëne graad?

Die doel van die vierjarige professionele kwalifikasie is om studente sodanig wetenskaplik op te lei en toe te rus met die nodige kennis, spesifieke vaardighede en gepaste bevoegdhede om Beroepshigiëniste te word en te registreer by die Southern African Institute for Occupational Hygiene (Besoek die webtuiste).

In Suid-Afrika word gesondheid en veiligheid van werkers in die algemene industrieë en mynbou deur twee wette beheer nl. die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (Wet 85 van 1993) en die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne (Wet 29 van 1996). Beide hierdie twee wette en hulle regulasies definieer Beroepshigiëne en bepaal die pligte wat deur Beroepshigiëniste uitgevoer moet word.

 

 

Wyse van aanbieding en duur van die program

Die program word voltyds aangebied en strek oor vier (4) jaar.

Let daarop dat die taal van onderrig Afrikaans is, maar simultane tolking na Engels is beskikbaar.

 

 

Wat is die toelatingsvereistes vir die graad?

Benewens die algemene toelatingsvereistes, is die volgende vereistes van toepassing op

die BHSc in beroepshigiëne:

a) 'n Nasionale Senior Sertifikaat met universiteitstoelating uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Sertifiseringsraad.

b) Wiskunde en Fisiese Wetenskap vlak 5 (60-69%); Lewenswetenskappe of Fisiologie op vlak 4 (50-59%) is ʼn aanbeveling;

c) APS-telling: Die resultate behaal in vier aangewese vakke plus twee NSC-vakke sal in ag geneem word. Die uitslae wat in Lewensoriëntering bereik word, word nie in ag geneem nie.

'n APS-telling van minstens 27;

d) Taalvereiste: 'n Slaagpunt van 50-59% (vlak 4) in die taal van onderrig en leer op die vlak van huistaal of eerste addisionele taal.

e) enige verdere toelatingsvereistes soos van tyd tot tyd deur die Senaat bepaal.

 

Wat is die keuringsproses vir die graad?

Keuring berus op akademiese prestasies waar 'n voornemende student aan die toelatingsvereistes vir die graad moet voldoen.

Toelating tot die graad geskied via 'n akademiese keuringsproses.

Die afsnydatum vir aansoeke is 31 Augustus van elke jaar.

Vir meer inligting oor die keuringsproses kan die volledige keuringsbrief hier besigtig word.

 

 

Nagraadse studies.

Na die voltooiing van hierdie graad, sal jyin staat wees om voort te gaan met ‘n MGW en PhD graad in Beroepshgiëne.

Vir meer inligting, besoek die Beroepshigiëne en Gesondheid Navorsingsinisiatief (OHHRI) bladsy.

 

 

 

Om aansoek te doen, druk hier