M en PhD in Verbruikerswetenskappe

 

ʼn Nagraadse kwalifikasie in Verbruikerswetenskappe gee u die geleentheid om u kennis van verbruikersgedrag te verbeter en om die nodige vaardighede te ontwikkel om navorsing te doen oor verbruikers om sodoende verbruikers se besluite te verstaan. Insig aangaande verbruikers is tans ʼn gesogte vaardigheid in die industrie aangesien dit vervaardigers en handelaars bemagtig om produkte en dienste te lewer na aanleiding van die verbruiker se behoeftes. Daarom sal ʼn nagraadse kwalifikasie in Verbruikerswetenskappe u nie net as akademikus ontwikkel nie, maar u ook toerus met die kennis en vaardighede wat u sal nodig hê om ʼn waardevolle bydrae te maak in ʼn beroep binne hierdie dissipline.

 

Doel van die M en PhD in Verbruikerswetenskappe

Beide die Meestersgraad in Verbruikerswetenskappe en die PhD in Verbruikerswetenskappe is navorsingsgebaseerd en val binne die Afrika Eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR – Africa Unit of Transdisciplinary Health Research) met ʼn fokus op die bevordering van verbruikersbelange en -welstand (CON-WELL). Die program sal kandidate toerus om hoë-vlak navorsing te doen en om beduidende en oorspronklike bydraes te maak tot die studie van verbruikersgedrag. Individue met hierdie kwalifikasie sal die nodige vaardighede hê om binne ʼn span te funksioneer en om ʼn span te lei. Hulle sal ook die vermoë hê om verbruikersgedragnavorsing suksesvol te gebruik binne huishoudelike-, werk- en handelsomgewings as ʼn manier om verbruikers te help om hulle eksterne en interne hulpbronne effektief en optimaal te gebruik ten einde hulle belange en welstand te bevorder.

Doen aansoek.

 

Vir verdere inligting, kontak Prof Daleen van der Merwe