Voorgraadse studie-opsies

Menslike Bewegingswetenskappe

Menslike Bewegingswetenskappe het te make met die wetenskap van die mens in beweging in die konteks van oefening, fisieke aktiwiteit, sport, motoriese ontwikkeling en fisieke rehabilitasie. Die kwalifikasie dien ook vir opleiding in loopbane as oefenkundige, sportorganiseerder of fiksheidsdeskundige.  Verder skep die kwalifikasie die basis vir 'n Nagraadse Onderwys Sertifikaat (NGOS).  Binne die MBW program is daar 3 studierigting opsies, naamlik: Sportafrigting en MBW, Sport en Rekreasie Administrasie en Biokinetika.

Fakulteit keuringsproses

Al ons kwalifikasies se keuringsprosesse is dieselfde. Geen keuringstoets word geskryf nie, slegs papierkeuring vind plaas.

Papierkeuring prosedure is as volg:

- All aansoeke word ontvang vanaf toelatingskantoor na afloop van die sluitingsdatum.

- Alle aansoeke word van hoogste APS telling na laagste APS telling gerangskik.

- Vir Biokinetika word die top 40 gekies.

- Vir Sportafrigting en Menslike Bewegingswetenskap word die top 55 gekies.

- Vir Diploma in Afrigtingswetenskappe word die top 100 gekies.

- Vir alle Rekreasie kwalifikasies word die top 55 gekies.

Diploma in Afrigtingswetenskap

Die diploma in afrigtingswetenskap, strek oor twee jaar. Die program sluit ʼn generiese eerste semester in waarin meestal teoretiese modules voorkom en ʼn tweede semester wat meestal uit praktiese modules bestaan. Die program word op die Potchefstroom en Mahikeng Kampus aangebied. Studente op die Potchefstroomkampus kan in rugby of sokker spesialiseer, terwyl studente van die Mahikengkampus in sokker spesialiseer. Die toelatingsvereiste vir die program is ʼn minimum APS van 18 en finale keuring word deur ʼn paneel gedoen.

Modules soos sportbestuur, video-analise, gholf en sportpsigologie is maar enkele modules wat in die kursus ingesluit is. Studente kan na die voltooiing van hul diploma aansoek doen om voort te gaan met die Sportafrigting en MBW graad.  Die vereistes om na afloop van die diploma aansoek te doen vir die graad in sportafrigting en MBW is 'n gemiddeld van 60% per jaar nodig.

Rekreasiekunde

Rekreasiekunde handel oor die studie van vryetydsgedrag van individue en gemeenskappe ten einde behoeftes te identifiseer en geleenthede vir rekreasiedeelname te skep om sodoende totale welstand en 'n gesonde leefstyl te bevorder. Rekreasiekundiges funksioneer in die publieke, privaat en nie-winsgewende sektore waar hulle belangrike bydraes tot gemeenskapsontwikkeling en gesondheidsbevordering lewer.

Biokinetika

Biokinetika se primêre funksie is om fisiese funksionering en gesondheidsorg deur middel van oefening as modaliteit te verbeter – met ander woorde, om deur middel van oefening/fisieke aktiwiteit mense se gesondheid en lewenskwaliteit te help verbeter. Biokinetika is die beroep wat met die bevordering van gesondheid, die handhawing van fisiese vermoëns en finalefase-rehabilitasie deur middel van wetenskaplikgebaseerde oefenprogramvoorskrifte gemoeid is.

’n Biokinetikus is ’n kliniese oefenkundige wat:

  • binne ’n professionele alliansie met verbetering van gesondheid werk, en deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika erken en geregistreer word;
  • ’n persoon se fisiese welstand en lewensgehalte verbeter deur middel van geïndividualiseerde wetenskaplike evaluering en die voorskryf van oefening in rehabilitatiewe behandeling om sekere ongesteldhede te verhoed of daarby in te gryp en werkvermoë verbeter;
  • liggaamshouding, liggaamsamestelling, bloeddruk, glukosevlakke, longfunksie, hartklop, fiksheid, spierkrag, uithouvermoë, krag, soepelheid en ander gesondheidstoetse evalueer en meet; en
  • ’n gesondheidskundige is wat, deur middel van die bevordering van gesondheid en welstand, ’n beter lewensgehalte skep vir die mense met wie hulle werk.

Kinderkinetika

Kinderkinetika is die professie wat poog om vanuit ’n gesondheidsperspektief, en gebaseer op opvoedkundige beginsels, die neuromotoriese ontwikkeling van jong kinders (0-13 jaar) deur middel van wetenskaplikgebaseerde fisieke aktiwiteit optimaal te bevorder.

Kinderkinetika is ’n voltydse nagraadse spesialiseringsrigting wat met keuring gepaard gaan, waar die opleiding fokus op dieptekennis van die ontwikkelende kind se groei, groot-motoriese, perseptueel-motoriese en fisieke ontwikkeling, die bevordering en die regstelling daarvan, met die optimale welstand van die kind as einddoel. ’n Kinderkinetikus lewer gevolglik ’n groot bydrae in die ontwikkeling van spesifieke bewegingsaktiwiteite om sportspesifieke aktiwiteite en die sensoriese en perseptueel-motoriese gereedmaking van voorskoolse kinders te bevorder, die bevordering van ’n gesonde leefstyl by kinders deur die fundamentele vaardighede wat benodig word vroegtydig in plek te stel en ouer kinders aan gesondheidsbevorderende programme bloot te stel waar hulle kennis, waardes en vaardighede kan bekom om op ’n selfverantwoordelike wyse hulle eie gesondheid later te kan bevorder deur ’n aktiewe leefstyl te volg.

Kinderkinetici (ook genoem pediatriese oefengesondheidspesialiste), ontvang ook intensiewe opleiding in die assessering van kinders se ontwikkeling waar beperkinge op bogenoemde terreine geïdentifiseer en hanteer word deur geïndividualiseerde programme te ontwikkel en uit te voer vir kinders met groei- en/of ontwikkelingsagterstande, gesondheidsbekommernisse soos onaktiwiteit of obesiteit en gesondheids- en ontwikkelingsbeperkinge wat met sindrome of gestremdhede gepaard gaan.

Kinderkinetici registreer by die Suid-Afrikaanse Professionele Instituut vir Kinderkinetika (SAPIK) wat die professionele tuiste vir kinderkinetici in Suid-Afrika is en die professionele gedrag van hierdie beroepslui deur middel van registrasie reguleer. Die Skool vir Menslike Bewegingswetenskappe van die NWU is die fisiese adres van SAPIK waarvan prof Anita Pienaar die president is.