Oor Ons

Oor kinderkinetika

Kinderkinetika is die professie wat poog om die neuro-motoriese ontwikkeling van jong kinders (0-13 jaar) deur middel van wetenskaplik gebaseerde fisieke aktiwiteit, optimaal te bevorder met onder andere die volgende doelwitte:

  • Funksionele groei en ontwikkeling by kinders te bevorder;
  • Aanleer van spesifieke bewegingsaktiwiteite om sportspesifieke aktiwiteite te bevorder en te fasiliteer;
  • Implementering van toepaslike aangepaste en rehabilitasieprogramme vir kinders met groei- en/of ontwikkelingsagterstande en gestremdhede.

Die Suid-Afrikaanse Professionele Instituut vir Kinderkinetika. (SAPIK) is die professionele tuiste van Kinderkinetici in Suid-Afrika waarby hulle registreer.  SAPIK reguleer die professionele optrede en geregistreerde handelsmerk (kwaliteitskontrole van hierdie intellektuele eiendom) van die professie deur registrasie.

Kinderkinetika se opleiding binne die Kinderkinetikaprogram word rondom programme gestruktureer aangesien ontwikkelingsbehoeftes en neuro-motoriese ontwikkeling van kinders van verskillende ouderdomme wesenlik verskil, asook programinhoudelike wat fokus op tipiese en a-tipiese ontwikkeling by kinders. Opleiding word aan die hand van die volgende programuitkomste aangebied:

Aangepaste of remediërende program

Hierdie programinhoudelike help kinders tot en met die ouderdom van 13 jaar om agterstande of probleme te oorkom, deur deelname aan geïndividualiseerde programme, gerig op die spesifieke agterstand van die kind. Aspekte soos obesiteit, spesifieke motoriese agterstande, asook hulpverlening vanuit die fisieke aan kinders met spesifieke gestremdhede word aangespreek.

Kleuterprogramme

Hierdie programinhoudelike word in groepsverband aangebied vir kinders vanaf 2 tot 7 jaar en fokus op die kind se groot-motoriese vaardighede en perseptueel-motoriese ontwikkeling. Die doel van die program is die optimale ontwikkeling van die jong se bewegingsvermoëns, wat neerslag het in skool- en sportgerreedheid. Kindekinetici beskik ook oor die vaardighede om watergereedmaking van kinders in hierdie ouderdomsgroep te bevorder.  

Program vir spesiale populasies

Waterterapieprogramme wat van toepassing gemaak word op, onder andere, kinders met Downsindroom en serebrale gestremdheid om funksionaliteit by hulle te verbeter vanuit die motoriese- en fisieke aspekte van hulle ontwikkeling.

Welstandsprogram

'n Groepsgebasseerde program vir ouer kinders tussen 9 en 14 jaar wat kinders toerus met vaardighede en waardes om ‘n gesonde en gebalanseerde leefwyse te kan handhaaf. Die doel van die program is om aktiewe volwassenes van aktiewe kinders te maak.

Babaprogram

Vroeë sensoriese en motoriese stimulasie vir optimale ontwikkeling van die baba tussen 0 tot 24 maande, wat die ouer met kennis en die baba met vaardighede toegerus word.

Sportvaardigheidsprogram

Dit is 'n program om aan kinders tussen 8 en 12 jaar die basiese sportvaardigehde te leer vir onder andere sokker, rugby en netbal. Die doel van die program is om die basiese reëls, maar veral die nodige fundamentele vaardighede aan te leer. Die program vind in groepsverband plaas.