Huidige projekte | African-PREDICT

Oor African-PREDICT

African-PREDICT studie (African PRospective study on the Early Detection and Identification of Cardiovascular disease and HyperTension)

Die African-PREDICT studie is ‘n longitudinale studie wat in 2013 begin het, en na verwagting vir die volgende 10-20 jaar sal duur. ‘n Totaal van 1200 jong, gesonde en normotensiewe swart en wit proefpersone (20-30 jaar) word ingesluit om die ontwikkeling van kardiovaskulêre agteruitgang en hipertensie ontwikkeling na te vors.

Ons doel

Op grond van kennis ingewin vanaf vorige epidemiologiese studies, stel die African-PREDICT studie ten doel om die vroeë patofisiologie wat met kardiovaskulêre siekte ontwikkeling gepaardgaan beter te verstaan, en om vroeë merkers of voorspellers vir die ontwikkeling van kardiovaskulêre siektes in swart Suid-Afrikaners te identifiseer. Deur tradisionele en nuwe risikomerkers te evalueer, kan daar moontlik meer effektiewe en sensitiewe siftingsmerkers geïdentifiseer word as teikens vir intervensie, en wat moontlik geïmplementeer kan word as deel van suksesvolle voorkomingsprogramme in swart populasies tydens jonger ouderdomme.

Om die doelwit te bereik word gedetailleerde kardiovaskulêre profiele en nuwe biomerkers bepaal, asook gedrags- en biopsigososiale metings geneem. Dit vind plaas elke 5 jaar ten einde vroeë veranderinge te identifiseer, en om veranderinge in kardiovaskulêre funksie te verstaan. Laastens is dit ook belangrik om spesifieke voorspellers te identifiseer vir die ontwikkeling van hipertensie en vroeë orgaanskade.

‘n Uitgebreide transdissiplinêre span van nasionale en internasionale wetenskaplikes werk saam in hierdie studie.

In die nuus

Nuutste in navorsing

Ons fasiliteite

 

 

Facebook

Die doel van die Facebook-groep is om 'n platform van kommunikasie te wees rakende verskillende aspekte van die studie. Relevante inligting sal oorgedra word, bv.  interessante bevindings uit die projek en veldtogte vir gesondheidsbewustheid.

* Let daarop dat hierdie 'n geheime groep is. Versoeke sal gesif word en slegs deelnemers aan die studie sal toegang kry.

Finansiële ondersteuning

Die projek word finansieël ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC) met befondsing vanaf die Nasionale Tesourie (Ekonomiese Kompeterende en Ondersteuningspakket); die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel Inisiatief (SARChI) van die Department van Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Navorsingsstigting (NRF) van Suid-Afrika; die Strategic Health Innovation Partnerships (SHIP) Eenheid van die SAMRC met fondse ontvang vanaf die Suid-Afrikaanse Nasionale Department van Gesondheid, GlaxoSmithKline R&D, die Mediese Navorsingsraad van die Verenigde Koninkryk en met befondsing vanaf die Verenigde Koninkryk se Newton Fonds; asook korporatiewe maatskaplike beleggings vanaf Pfizer (Suid-Afrika), Boehringer-Ingelheim (Suid-Afrika), Novartis (Suid-Afrika), die Medi-Clinic Hospitaalgroep (Suid-Afrika) en in natura bydraes vanaf Roche Diagnostics (Suid-Afrika).