
1. Wat is ‘n dieetkundige?
Dieetkunde is die wetenskap wat ondersoek hoe voedsel en voeding die mens se gesondheid en welstand beïnvloed. Dit behels bewysgebaseerde kennis oor voeding om gesondheid te bevorder, siekte te voorkom en te bestuur en lewensgehalte te verbeter. Dieetkunde kombineer elemente van fisiologie, biochemie en voedselwetenskap om te verstaan hoe voeding die liggaam beïnvloed en hoe om individue en gemeenskappe te ondersteun deur gesonder diëte te bevorder.
2. Wat behels ‘n graad in Dieetkunde?
Hierdie kwalifikasie is ’n professionele graad wat gegradueerdes in staat stel om onder die Professionele Raad vir Dieetkunde en Voeding as dieetkundiges by die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika (RGBSA) te registreer.
Studente word in al drie die gebiede van die beroep opgelei, naamlik in voedseldiensbestuur, terapeutiese en gemeenskapsvoeding. Dieetkundiges is ook by voedingsverwante navorsing betrokke.
3. Toelatingsvereistes
• Nasionale senior sertifikaat met universiteitstoelating
• ‘n APS-telling van minstens 30
• Wiskunde – Vlak 5 (60-69%) EN
• Fisiese wetenskap – Vlak 5 (60-69%)
• ‘n Slaagsyfer van 50-59% (vlak 4) in die taal van leer en onderrig op Huistaal- of Eerste addisionele Taalvlak
4. Wyse van aanbieding en duur van die program
Die program word slegs voltyds aangebied en strek oor ‘n tydperk van vier (4) jaar.
Let daarop dat die onderrigtaal Afrikaans of Engels is, maar simultane tolking in Engels of Afrikaans is beskikbaar waar van toepassing.
5. Keuringsproses
Voornemende studente is onderhewig aan ʼn keuringsproses. Die volgende kriteria word gebruik vir die keuringsproses:
I. Akademiese komponent (Graad 12 gemiddel). Voornemende studente moet ‘n gewaarmerkte afskrif van hul Graad 12-resultate of onlangste resultate voorsien. (Graad 11 finale resultate kan die aansoekvorm vergesel).
II. Bewys dat besoek aan ʼn geregistreerde dieetkundige afgelê is.
6. Nagraadse studies
Die suksesvolle voltooiing van die graad BSc in Dieetkunde verleen toegang tot die MSc-graad in Dieetkunde of Voeding en is onderhewig aan ʼn keuringsproses op grond van akademiese prestasie van die student asook beskikbare kapasiteit in die vakgroep. Die volgende toelatingsvereistes geld:
- Die student moet minstens 60% behaal het in elk van die volgende modules: NUTT312, NUTT323, NUTT324, NUTR321 en NUTR471 of gelykwaardige modules.
- Beskrywende statistiek (STTN111) of ʼn gelykwaardige module is ʼn newevereiste.
Na die voltooiing van 'n MSc graad in Dieetkunde of Voeding, kan 'n PhD in Dieetkunde of Voeding volg mits die voorvereistes behaal is.
7. Loopbaanmoontlikhede
- Gesondheidsorgsektor: Departement van Gesondheid, privaat hospitale
- Farmaseutiese en mediese voedingsmaatskappye, mediese fondse
- Voedsel- en voedingsbedryf: voedselvervaardigingsmaatskappye
- Kleinhandelsupermarkte, spyseniers- en voedseldiensmaatskappye
- Openbare gesondheid en gemeenskapsvoeding: Departement van Gesondheid
- Departement van Onderwys
- Departement van Korrektiewe Dienste
- Departement van Verdediging
- Nieregeringsorganisasies
- Sport- en welstandsektor: professionele sportspanne
- Organisasies, korporatiewe welstandsprogramme
- Navorsing: die Mediese Navorsingsraad (MNR), universiteite
- Die voedselbedryf
- Onderwys: universiteite of skole (’n nagraadse onderwyskwalifikasie kan vereis word)
- Entrepreneurskap en privaat praktyk: privaat dieetkundepraktyk
- Privaat konsultasiedieetkundiges, nuwe gesondheids- en welstandsbesighede
- Gesondheidskommunikasie (byvoorbeeld voedingsjoernalistiek, sosiale media, inhoudskepping)
8. Verpligte gemeenskapsdiens jaar
Die Departement van Gesondheid vereis ʼn verpligte gemeenskapsdiens jaar na die voltooiing van die BSc Dieetkunde program. Die doel van hierdie jaar is om kundigheid te ontplooi in landelike dele van Suid-Afrika, waar hierdie dienste normaalweg nie gevind word nie. Die dieetkundige ontvang ʼn intreevlak salaris vir een kalanderjaar en byvoordele, afhangende van die streek waar hulle sal werk (bv. landelike toelae, behuisingstoelae, ens.)
9. Fakulteitspesifieke vereistes
- Studente is wetlik verplig om aan die begin van die eerste studiejaar as studentedieetkundiges by die beroepsraad vir Dieetkunde van die HPCSA te registreer.
- Vir praktykopleiding gedurende die studiejare is die besit van ʼn geldige rybewys voor die aanvang van die tweede studiejaar ʼn vereiste.
- Studentelidmaatskap van die professionele vereniging, die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika (ADSA), is vanaf die eerste jaar van studie verpligtend.
- Alle kostes verbonde aan die praktykopleiding in die vierde studiejaar moet deur die student self gedra word.
- Geen student sal toegelaat word om in die vierde studiejaar op ʼn huiskomitee van ʼn koshuis te dien nie.