Tuis

Oorsig

Ten spyte van beroepsgesondheid- en veiligheidswetgewing word daar beraam dat 2,3 miljoen werkers jaarliks as gevolg van beroepsverwante ongelukke en aan werksverwante (beroepsverwante) siektes sterf, waarvan laasgenoemde vir 2 miljoen sterftes verantwoordelik is. Daar word voorts beraam dat 160 miljoen werkers aan beroepsverwante siektes ly. Dit is teen hierdie agtergrond dat die OHHRI in 2015 as navorsingsfokusarea in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe gestig is. Ons fokus is die vasstelling, herkenning, evaluering en beheer van chemiese en fisiese stressors (faktore) wat ’n risiko vir die gesondheid van werkers in Suid-Afrikaanse werkplekke inhou. Hoewel die fokus primêr navorsing oor beroepshigiëne is, is die uiteindelike mikpunt om die gesondheid van werkers te bevorder deur die ontwikkeling van beroepsverwante siektes te voorkom deur werkplekke te skep wat nie vir die gesondheid nadelig is nie.

Benewens die kundigheid oor beroepshigiëne en toenemende bekwaamheid van ons navorsers en ’n uitgebreide versameling van gespesialiseerde navorsingsinstrumente, kan ons mededingingsvoorsprong toegeskryf word aan: (i) ons spesifieke fokus op navorsing oor beroepshigiëne, waar ander universiteite se navorsing hoofsaaklik oor beroeps-, omgewings- en openbare gesondheid gaan; (ii) ons geskiedenis van en deurlopende samewerking met die bedryf, veral in die platinummynbedryf; en (iii) ons gestruktureerde MSc-graad in Beroepshigiëne, wat nie deur enige ander Suid-Afrikaanse universiteit aangebied word nie. 

Navorsingsamewerking is nie tot bedryfsvennote beperk nie, en navorsingsamewerking bestaan met ander navorsingsentiteite van die NWU, en ander nasionale en internasionale universiteite en instellings.