Oor ons

Doelwitte

Prekliniese toetsing asook die potensie-evaluering van biologiese produkte is afhanklik van die daarstelling van die aanvaarde internasionale in vitro- en in vivo-modelle. Hierdie platform het ten doel om:

  • As ’n nasionale prekliniese toetsplatform vir kwalitatiewe en kwantitatiewe prekliniese studies vir navorsingsinstellings en maatskappye te funksioneer.
  • Farmakologiese, farmakokinetiese en geselekteerde toksikologie-veiligheidstudies vir nuwe verbindings en/of formulerings uit te voer.
  • Potensie- en veiligheidslotvrystellingontledings van produkte met ’n biologiese basis uit te voer.
  • Modelle te ontwikkel, daar te stel en in stand te hou soos dit met aansteeklike siektes, chroniese toestande, neurobiologie en die behandeling van ’n verskeidenheid siektes verband hou.
  • Die infrastruktuur en die stel vaardighede daar te stel om die verskillende in vitro- en in vivo-studies gedurende die prekliniese fase van middelontwikkeling uit te voer.
  • ’n Bemagtigende omgewing te skep om plaaslike sowel as internasionale kliënte te lok om van die fasiliteit gebruik te maak.
  • Onderskeidelik die GLP-status en cGMP-status bekend te stel aan die afdelings waar so ’n vlak vereis word, en om personeel ten opsigte van die riglyne vir GLP en cGMP op te lei.’n Infrastruktuur te skep wat Suid-Afrika in staat kan stel om ’n betekenisvolle rol in die produksie van geneesmiddels en fitomedisyne te speel.

Visie en missie

Prekliniese middelontwikkeling is ’n skaars en kritieke kennisgebied in Suid-Afrika.  Die ontwikkeling en vervaardiging van geskikte medisynes vir besmetlike en chroniese siektes binne die finansiële beperkings wat in ons samelewing bestaan, is ’n uitdaging.  Hierdie proses vereis dat nuwe farmaseutiese produkte en biologiese stowwe soos entstowwe plaaslik ontwikkel en vervaardig moet word. Die doel van die platform is om aan die streng regulatoriese vereistes te voldoen om die internasionale farmaseutiese beste praktyke na te kom en ’n diens van wêreldgehalte in prekliniese middelevaluering te lewer.

Uitkomste

  • 'n Volledige waardeketting in die geneesmiddel-/fitomedisynebedryf.  Die NWU vorm ’n beginpunt.
  • Vir Suid-Afrika om in die posisie te wees om betyds en meer omvattend te reageer op die behoefte om terapieë vir Afrika- of Derdewêreldsiektes te produseer.
  • 'n Instelling wat toeganklik is vir alle wetenskaplikes wat sulke navorsingsdienste teen ’n redelike koste nodig mag hê.
  • Beskerming van Suid-Afrikaanse intellektuele eiendom (IE).
  • Die verbetering van Suid-Afrika se vermoë om aan baanbrekernavorsing deel te neem.