Wat is Verbruikerswetenskappe?
Verbruikerswetenskappe is ’n studieveld waar die fokus op die welstand van die verbruiker en hul interaksie met gemeenskappe en die omgewing val. Dit is ’n stimulerende studierigting wat die geleentheid bied om kreatiwiteit op verskeie vlakke tot voordeel van die verbruiker aan te wend.
Die behoeftes van die Suid-Afrikaanse verbruiker word op ’n wetenskaplike wyse ontgin en nagevors. Die programme wat by Verbruikerswetenskappe aangebied word, is ontwerp om verbruikers se gedrag binne die velde van Modekleinhandelbestuur en Voedselprodukbestuur te bestudeer.
Verbruikerswetenskaplikes is in diens van die verbruikerskleinhandelbedryf as verbruikerspesialiste om: i) verbruikersprodukte te verbeter; ii) verbruikers se gedrag te verstaan; en iii) verbruikers se welstand te verbeter en sodoende 'n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en ontwikkeling te maak.
Ons bied drie kwalifikasies:
- Drie jaar Baccalaureus in Verbruikerstudies (8EF H01). Hierdie program bied aan gegradueerdes 'n afgeronde, breë opleiding in voedsel, mode en verbruikersgedrag geïntegreer met Voeding, Besigheid en Entrepreneuriese modules.
- Vier jaar Baccalaureus in Verbruikerswetenskappe in Modekleinhandelbestuur (8DT K03). Hierdie program bied aan gegradueerdes 'n gespesialiseerde opleiding in modekleinhandelbestuur, verbruikersgedrag, verbruikersnavorsingsmetodologie en die uitvoer van 'n modenavorsingsprojek, geïntegreer met Besigheids- en Kommunikasiemodules.
- Vier jaar Baccalaureus in Verbruikerswetenskappe in Voedselprodukbestuur (8DS K03). Hierdie program bied aan gegradueerdes 'n gespesialiseerde opleiding van voedselprodukbestuur, voeding, verbruikersgedrag, verbruikersnavorsingsmetodologie en die uitvoer van 'n voedselnavorsingsprojek, geïntegreer met Besigheids- en Kommunikasiemodules.