Projekte

Die CHPE is tans by ’n aantal projekte betrokke, waarvan ’n aantal navorsingsverwant is en ’n aantal op kwaliteitsbevordering fokus. ’n Paar voorbeelde:

Omgekeerde klaskamer, vervlegde leer en grootklasonderrig

Die uitdagings van die onderrig en assessering in baie groot klasse (meer as ’n duisend studente) in voorgraadse onderrig, plus die belyning van die module oor die kampusse heen, word met behulp van ’n omgekeerdeklaskamer-benadering deur middel van die implementering van spangebaseerde leer deur vervlegde leer hanteer. Die doeltreffendheid van hierdie veranderings word deur ’n geregistreerde etiek-goedgekeurde VvOL-projek nagevors. Daarbenewens word e-assesseringsprosesse ontwikkel, geïmplementeer en geëvalueer om die behoeftes, doeltreffendheid en sukses van die gebruik van e-assessering as formele assesseringsmetode regoor die kampusse vas te stel.

NWU Transtaalprojek

Die tweedejaar-module Ken die Gesondheidswêreld is deel van die NWU Transtaalprojek. Die module (wat tans in Engels en Afrikaans aangebied word) sal in Tswana en Xhosa vertaal word om studiemateriaal in die huistaal van studente op al drie kampusse te verskaf. Daarbenewens sal ’n groep studente uit hierdie klasse aan ’n internasionale mobiliteitsprojek in die vorm van uitruilleer met studente van die Georgia Staatsuniversiteit deelneem.

Interprofessionele onderrig

Interprofessionele onderrig (IPO) behels dat studente uit verskillende gesondheidsberoepe in gesondheidspanne werk waar hulle van mekaar kan leer, en ’n gesamentlike doel het om holistiese gesondheidsorg tot voordeel van die pasiënt te verskaf.  IPO word geïmplementeer as ’n buitekurrikulêre aktiwiteit in die vorm van ’n IPO-resies waar derdejaarstudente as vrywilligers in spanne deelneem om fisieke en intellektuele gesondheidsverwante uitdagings op te los terwyl hulle teen ander spanne en teen tyd meeding.

Kwaliteitsbevordering van e-leeromgewings

As deel van die strategiese veldtog om die gebruik van interaktiewe e-leer-platforms vir vervlegde leer te verhoog en te verbeter, word die studiegidse van alle gesondheidswetenskapmodules in interaktiewe e-leer-omgewings omskep. ’n Telkaart vir kwaliteit is ontwikkel om leiding aan dosente te verskaf om hulle studiegidse in interaktiewe e-leer-omgewings te omskep.

Mentorskap in onderrig en leer

’n Formele mentorskapprogram in die fakulteit is in die tweede semester van 2019 van stapel gestuur sodat geïdentifiseerde senior en ervare mentors in die fakulteit mentorskap aan jonger akademici kan verskaf. Hierdie 12 maande lange program is ontwerp en ontwikkel volgens die behoefte wat deur die akademici geïdentifiseer is, en het ten doel om leiding en ondersteuning aan jonger akademici te verskaf op hulle pad om vakkundiges in onderrig en leer te word.