Tuis

 

Prof Awie Kotzé, die dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, het in 2013 die strategiese visie gehad om uitnemendheid in onderrig en leer in die fakulteit te bevorder. Hy het die inisiatief geneem om ’n hoëronderwysspesialis met ’n agtergrond in gesondheidswetenskappe in die dekaan se kantoor aan te stel. Hierdie enkele aanstelling het oor die volgende drie tot vier jaar in ’n kantoor vir Gesondheidsberoepe-onderrig ontwikkel, en in 2018 het die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderrig (CHPE) tot stand gekom.  Die CHPE word tans deur slegs vier voltydse personeellede (drie akademies en een ondersteuning) bedryf, met moontlikhede om in die nabye toekoms uit te brei. 

Namate die fokus op kwaliteitonderrig en -leer by die NWU en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe toegeneem het, het die waarde van die CHPE duideliker geword. Deur die CHPE was daar ’n nuwe fokus op innoverende en kwaliteitonderrig en -leer in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Hoër onderwys en gesondheidswetenskappe is meer belyn, en deur ’n toegewyde nastrewing van die vakkundigheid van onderrig en leer (VvOL) is daar ’n verband tussen onderrig en navorsing gevorm.

Die CHPE is uniek in dié sin dat dit tegelykertyd die omvang en funksie van ’n skool, ’n navorsingsentiteit en ’n fakulteitsontwikkelingseenheid het. Voorgraadse onderrig, nagraadse onderrig, navorsing en fakulteitsontwikkeling is alles deel van die verantwoordelikhede van hierdie sentrum. Die doelwit van die CHPE is om deur die professionele ontwikkeling van dosente innoverende onderrig en leer in gesondheidsberoepe-onderrig en die navorsing op hierdie gebied te bevorder.

’n Beduidende deel van die CHPE se jaarplan behels fakulteitsontwikkelingsaktiwiteite soos behoefte-spesifieke werkswinkels, opleidingseminare en konsultasies. Dosente word aangemoedig en ondersteun om by VvOL-navorsing betrokke te raak, en ’n aantal publikasies en konferensie-aanbiedings het reeds uit hierdie beweging voortgespruit. 

Die CHPE is ook aktief by NWU-gedrewe kwaliteitsbevordering en innovasieprojekte betrokke en werk nou saam met die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL).