PhD in Gesondheidswetenskappe met Positiewe Sielkunde

 

Die soeke na betekenis, geluk en welstand is eeue lank al vir mense van groot belang. Navorsers soek na antwoorde op vrae soos: wat gee aan mense betekenis, wat is geluk, wat is welstand, hoe kan ons hierdie dinge bevorder? Positiewe sielkunde is die studie van die kenmerke, omstandighede en prosesse wat daartoe bydra dat mense, groepe en instellings floreer of optimaal funksioneer. Dit sluit die wetenskaplike studie van psigososiale sterktes in, wat mense en gemeenskappe help om te gedy. ’n Basiese aanname van positiewe sielkunde is dat optimale menslike funksionering nie bloot bereik kan word deur patologie te genees en emosionele en gedragsprobleme te elimineer nie, maar dat mense se potensiaal, sterkpunte en vermoëns ook geïdentifiseer, in stand gehou en uitgebou moet word.

Die veld aanvaar dat mense betekenisvolle en vervullende lewens wil lei, dat hulle die beste dinge in hulleself en vir ander wil kultiveer en dat hulle hul ervarings in verhoudings, werk en ontspanning wil bevorder.

 

Doel van die PhD in Gesondheidswetenskappe met Positiewe Sielkunde

Die doel van hierdie program is om aan studente ’n gevorderde kennisbasis en navorsingsbevoegdheid te bied rakende die aard, ontwikkeling en versterking van psigososiale welstand in diverse kontekste.

Die kurrikulumsamestelling van die program is van akademiese aard. Die kurrikulum bied geleentheid vir die ontwikkeling van gespesialiseerde en gevorderde kennis, tesame met die relevante toegepasde vaardighede, ingesteldheid en waardes wat navorsers in positiewe sielkunde benodig. Die kwalifikasie lei nie tot `n addisionele professionele kwalifikasie of registrasie by die RGBSA (HPCSA) of enige ander wetgewende liggaam nie.

Die program sal kandidate in staat stel om hoë-vlak navorsing te doen en om oorspronklike akademiese bydraes te maak in die veld van positiewe sielkunde deurdat hulle gesofistikeerde kennis en navorsingsmetodes sal moet toepas om komplekse, onbekende probleme in die veld op te los. Studente sal die bevoegdheid ontwikkel om teoretiese kennis en navorsingsbevindinge te integreer en toe te pas binne relevante plaaslike en internasionale kontekste, en oor verskillende dissiplines heen. In die proses kan navorsingsbevindinge bydra tot die ontwikkeling van intervensies en die bevordering van welstand en lewenskwaliteit.

Sluitingsdatum vir aansoeke - 30 September.

 

PhD in Gesondheidswetenskappe met Positiewe Sielkunde inligting en aansoekproses

NWU nagraadse aansoeke

PhD in Gesondheidswetenskappe met Positiewe Sielkunde program-spesifieke aansoekvorm

 

Vir meer inligting kontak: Dr Christelle Liversage.