Magister Artium in Positiewe Sielkunde (MAPP)

 

Die Magister Artium in Positiewe Sielkunde is 'n 2-jaar gestruktureerde program wat saamgestel is uit onderrig- en navorsingskomponente. The onderrig-komponent bestaan uit vier modules aangebied op kampus in die eerste jaar van studie in die vorm van kontak sessies. Studente moet hierdie vier modules slaag om te kan voortgaan met die vyfde module, die mini-verhandeling. In die tweede jaar van studie is navorsing in die vorm van ‘n mini-verhandeling uitsluitlik die fokus. As deel van die navorsingskomponent is dit verpligtend vir studente om etiekopleiding, aangebied deur die Gesondheidswetenskappe Etiek Komitee, by te woon.

Neem asseblief kennis dat die MA in Positiewe Psigologie ‘n gespesialiseerde graad in Positiewe Psigologie is, en nie ‘n kliniese kwalifikasie is nie – dit lei ook nie tot registrasie by die RGBSA of enige ander liggaam nie. Huidige Suid Afrikaanse wetgewing spesifiseer dat studente wat hierdie graad voltooi aangemoedig word om hulle te onderwerp aan die gespesifiseerde riglyne verbonde aan die bedryf waaruit hulle kom.

Die doel van MAPP is om aan studente ’n gevorderde kennisbasis en navorsingsbevoegdheid te bied met betrekking tot die aard, ontwikkeling en bevordering van psigososiale welstand en gesondheid in verskillende kontekste, ontwikkelingsfases, kulturele groepe, ensovoorts. Fenomene sluit onder andere in positiewe emosies, die ervaring van betekenis, lewensveerkragtigheid, karaktersterkpunte, optimisme, bemagtigende sosiale kontekste en positiewe instellings. ’n Basiese voorveronderstelling van positiewe sielkunde is dat mense nie kan floreer deur slegs patologie te genees en gedrags- en emosionele probleme uit te skakel nie, maar dat mense se sterkpunte en vermoëns uitgebou moet word en hulle daarop moet kapitaliseer.

Die oorhoofse doelstellings van die program is om ʼn student in staat te stel om:

  • ’n goeie kennis en dieper begrip van positiewe sielkunde te kry deur die teorie, navorsing en intellektuele agtergrond daarvan te bestudeer;
  • kennis op te doen van ’n verskeidenheid instrumente in positiewe sielkunde en vaardighede te ontwikkel om dit in die professionele kontekste van die studente toe te pas of om innoverende toepassings in nuwe situasies te ontdek;
  • in-diepte kennis te verkry van die toepaslike metodes vir navorsing en data-analise.

Sluitingsdatum vir aansoeke is 30 September. Keuring vind plaas in Oktober en November.

 

MAPP Inligtingbrosjure

NWU nagraadse aansoeke

MAPP program-spesifieke aansoekvorm

 

Vir verdere inligting, kontak Me Juanita Brits vir administratiewe inligting Juanita.brits@nwu.ac.za en MAPP program spesifieke inligting, Dr Christelle Liversage by christelle.liversage@nwu.co.za