Wat SKJF Bied
ʼn Navorsingsmeestersgraad wat ʼn sistematiese begrip van kennis bied – baie daarvan op die voorpunt van of geïnspireer deur die maatskaplikewerk-dissipline, studierigting of area van professionele praktyk. Hierdie graad bied die geleentheid om oorspronklikheid in kennistoepassing en probleemhantering te toon.
PhD in Maatskaplike Werk – Die doel is om aan ons studente ʼn navorsingsplatform te gee waar hulle vóór graadverwerwing voordragte kan lewer by nasionale konferensies, en baie studente het al hul navorsing in eweknie-geëvalueerde joernale gepubliseer.
Visie
Die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Gesinstudies, geleë in die Wes-Kaap (Wellington), is ʼn navorsingsplatform vir gemeenskapsgebaseerde navorsing met alle aspekte van gemeenskapswelstand as fokus. Sedert 2011 het die SKJG ʼn strategiese visie ontwikkel om ʼn toonaangewende platform in die Wes-Kaap te wees, op die gebied van Kinder-, Jeug- en Gesinstudies, deur middel van wederkerige vennootskappe met gemeenskappe.
Missie
Om ʼn interdissiplinêre platform daar te stel vir opleiding, oorlegpleging en navorsing, en om dienste te lewer ter verbetering van die psigososiale welstand van kinders, jeugdiges en gesinne vanuit ʼn gemeenskapsbetrokkenheidsperspektief.
Navorsings Fokus
Huidige navorsingsterkpunte is gefokus op sewe areas:
• Kinder- en gesinswelstand
• Gesinne, ouerskap en intergenerasie-verhoudings
• Kinder- en jeugdeelname en burgerskap
• Gemarginaliseerde kinders, jongmense en hoërisikojeugdiges
• Werk met bates en hulpbronne in die konteks van trauma en armoede
• Beurs vir gemeenskapsbetrokkenheid
PROF CARLIEN VAN WYK (Kinderdeelname)
Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing is daar ʼn verbintenis om te verseker dat kinders se menseregte bevorder, beskerm en ontwikkel word. Deelname is ʼn voortgaande proses van kinders se uitdrukking en betrokkenheid by besluitneming op verskillende vlakke m.b.t. kwessies wat hulle raak. Dit behels respek vir kinders se menings oor kwessies wat hul lewens raak, met inagneming van die kind se ouderdom, ontwikkelingsfase en volwassenheid. Die fokus van die navorsing is dus kinders se deelname in verskillende kontekste. Dit word gerig deur ʼn kinderregperspektief sowel as ander maatskaplikewerkteorieë: sterkpuntgebaseerde perspektief, ekologiese-stelsels-benadering. Dit word gekontekstualiseer binne die uiteenlopende realiteite van Afrika. Die uiteindelike doel van hierdie navorsing is om kinders se deelname te bevorder in die konteks van maatskaplike werk in Suider-Afrika. Dit poog verder om die bevindinge van die navorsing te gebruik om vennootskappe aan te gaan met kinders, die jeug, gesinne en gemeenskappe om kinders se deelname aan te moedig en te bevorder.
DR SUSANNE JACOBS (Ondesteunende en Koesterende Verhoudings)
Dr Susanne Jacobs (SL) het ʼn PhD in Onderwys en is betrokke by onderrig en leerfasilitering vanaf VKO tot tersiêre vlak. Sy het ook ʼn meestersgraad in Spelterapie. Sy is ʼn dosent verbonde aan die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Gesinstudies (NWU vanaf 2009, Centurion-kantoor) verantwoordelik vir nagraadse studieleiding (afstand en kontak) van navorsing deur M- en D-studente op die vakgebiede van Onderwys, Maatskaplike Werk en Sielkunde. Haar belangstellings is temas wat gebruik maak van ʼn positiewesielkundebenadering tot ondersteunende verhoudings wat ʼn invloed het op die psigososiale welstand van leerders, eweknieë, onderwysers, ouers en gesinne; dus met betrekking tot relasionele welstand in die gesin, die samelewing en die skool. Waarderende Ondersoek, gebruik met individue of groepe in gemeenskappe word eerstens gebruik as ʼn waarderende perspektief (sterkpuntgebaseerde konstruktivistiese benadering wat gelyktydig verandering fasiliteer); en tweedens, as ʼn metode van ondersoek. Die relasionele-welstands-perspektief gaan uit van die veronderstelling dat die individu, gesin, gemeenskap en samelewing verweef en onafskeidbaar is. ʼn Persoon kan nie bestaan in die afwesigheid van die ander nie; daarom is dit belangrik om te verseker dat daar omgesien word na al die stelsels in die Suid-Afrikaanse konteks, soos byvoorbeeld armoede wat kwesbaarheid meebring, wat op sy beurt die gesin affekteer (mishandeling, substansmisbruik, VIGS, ontvalling, enkelouergesinne, aanneming en kindergeleide huishoudings, ens.). Die Witskrif oor gesinne in Suid-Afrika (2013) benadruk die belangrikheid daarvan om te verseker dat gesinne bemagtig en ondersteun word. Navorsingsprojek vir belangstellende studente: Om te kyk na die bevordering van VKO-ontwikkeling; kartering van die leemtes in SA ter ondersteuning van goeie vroeë ontwikkeling; ontwikkeling en vordering in die rigting van kapasiteitsbou-aktiwiteite wat ontwerp is om studente se sentrale navorsingsfokus op gemeenskapsontwikkeling, die skep van positiewe verhoudinge en die ontwikkeling en implementering van ondersteunende strategieë te fasiliteer. Bevindings van die navorsing sal hoogs relevant en voordelig wees vir organisasies/stelsels, werknemers, ouers, onderwysers, dosente en belanghebbendes.
DR ISSIE JACOBS (Ouer-Adolossente Verhoudings)
Die ouer-adolessent-verhouding is al jare lank ʼn gewilde onderwerp – nie net in akademiese en wetenskaplike joernale nie, maar ook in sekulêre tydskrifte. Wat internasionale navorsing betref, is daar vir baie jare lank geglo dat die ouer-adolessent-verhouding ʼn verhouding is wat gekenmerk word deur konstante konflik. Konflik en verwante kwessies met betrekking tot hierdie verhouding het dus heelwat aandag gekry oor die jare. In die afgelope dekade het ʼn klemverskuiwing plaasgevind ten opsigte van die ouer-adolessent-verhouding, waar navorsing spesifiek gefokus het op ouermonitering en adolessentopenbaarmaking. Navorsing wat in die onlangse jare in Suid-Afrika (SA) gedoen is oor die onderwerp van die ouer-adolessent-verhouding het meestal gefokus op maatskaplike kwessies soos a) adolessente se risikogedrag, b) hoe ouers sulke gedrag hanteer, en c) oor die algemene ervarings van adolessente van verskillende sosio-ekonomiese omgewings met betrekking tot hul verhouding met hul ouers. Te oordeel aan die resultate van hierdie studies is dit duidelik dat aspekte soos konflik, ouermonitering en adolessente openbaarmaking ook die fokus is van studies oor die welstand van die ouer-adolessent-verhouding binne ʼn SA konteks. Die uitkomste van hierdie navorsingstudies het meestal gedui op ʼn eenrigting-fokus, naamlik ouers se verantwoordelikheid wat betref die welstand van die verhouding. Hierdie navorsing fokus op die eksistensiële dialoog as ʼn wederkerige proses in die ouer-adolessent-verhouding.
PROF MARIETTE VAN DER MERWE (Werk met Bates en Hupbronne in die Konteks van Trauma en Armoede) Hierdie navorsing fokus op die wisselwerking van materiaal, interpersoonlike en persoonlike hulpbronne in die kontekste van trauma en armoede deur middel van kwalitatiewe navorsing. Dataversameling word hoofsaaklik gedoen met visuele dataversamelingstegnieke soos kartering. Armoede word gekonseptualiseer as meer as absolute armoede. Max-Neef se uiteensetting van armoede in areas van fundamentele menslike behoeftes is ʼn betekenisvolle raamwerk. Die navorsing word gerig deur teorie van bio-ekologiese stelsels en sterkpuntgebaseerde benaderings. Studente met ʼn lewendige belangstelling in trauma en armoede kan aansoek doen om verdere inligting te verkry.
PROF RETHA BLOEM (Hoë-Risiko Jeug Projek)
Hierdie interdissiplinêre gemeenskapsgebaseerde projek fokus op nieskoolgaande seuns en straatkinders. Daar is bevind dat die gemiddelde ouderdom van Suid-Afrikaanse straatkinders (hoofsaaklik swart seuns) ongeveer 13 jaar is. Die meeste van hulle bly al vir ten minste drie jaar lank op straat, en gesinsgeweld, alkoholisme van ouers, misbruik en armoede is die belangrikste redes waarom hulle die huis verlaat het. Die meeste van hierdie bevindinge geld vir straatkinders van regoor die wêreld. Volgens die Kinderwet, Wet 38 van 2005, is ʼn straatkind ʼn kind wat (a) weens misbruik, verwaarlosing, armoede, gemeenskapsomwenteling of vir enige ander rede sy of haar woning, gesin of gemeenskap verlaat het en op straat woon, bedel of werk; of (b) weens ontoereikende versorging bedel of werk op straat, maar snags terugkeer huis toe. Dienslewering aan straatkinders of kinders wat op straat woon en werk, is ʼn komplekse en uitdagende proses. Die dienste wat aan hierdie kinders gelewer word, is intersektoriaal en ʼn geïntegreerde benadering is nodig. Vir hierdie dienste om suksesvol te wees, moet dit berus op die waardes van die ontwikkelingsbenadering wat gebaseer is op regte, en op goeie verhoudinge tussen maatskaplike werkers en die gemeenskappe waar hierdie kinders woon. Kinders wat op straat woon en werk, is ʼn wêreldwye fenomeen. Weens hul ontwykende en onvoorspelbare manier van leef is dit egter bykans onmoontlik om te bepaal presies hoeveel van hierdie kinders daar is. Kinders wat op straat woon en werk, is ʼn manifestasie van die probleme wat kinders en gesinne in gemeenskappe ervaar weens gesondheids-, maatskaplike en ekonomiese faktore, wat maak dat huise minder doeltreffend raak om aan die kinders se behoeftes te voldoen, en dus lei tot hul marginalisering. Hoewel sommige kwesbare kinders beskerm word deur maatskaplike hulpverlening en kindersorgdienste deur die staat is daar ander kinders wat nie raakgesien word nie, en sommige van hulle word kinders wat op straat woon en werk.
PROF RETHA BLOEM (Ondersteuning van Gesinne)
Hierdie fokus investeer in aksies wat vroue in gekompromitteerde gemeenskappe ondersteun ten einde hul toekoms te transformeer. Dit fokus op die ekonomiese fasilitering van vroue deur vaardigheidsontwikkeling en op intervensies om hul deelname in alle strata van die samelewing moontlik te maak. Vroue van uiteenlopende agtergronde met uiteenlopende uitdagings – van lewensmaatgeweld tot mishandeling, geslagsdiskriminasie, gemarginaliseerde omgewings en afhanklikheid is ingesluit in hierdie navorsing. Die projek sal vir ten minste die volgende 8 jaar lank voortduur. Die uiteindelik doel van hierdie projek is om gemeenskapsdeelname te fasiliteer deur die ontwikkeling van inheemse kennis van hoe om werk te maak van geslagshoofstroming in Suider-Afrika. Deur ondersteuning van die VN se Vrouebemagtigingsbeginsels beklemtoon hierdie navorsing die belangrike rol van die hoëronderwyssektor in die skep van ʼn bemagtigende omgewing. Maatskaplike werkers wat graag die mites en opvattings oor wat ʼn vrou kan en nie kan doen nie die stryd wil aansê, en wat stelsels wil transformeer wat keer dat vroue en meisies hul potensiaal bereik en hul drome verwesenlik, kan aansoek doen om deel te wees van hierdie dinamiese span navorsers.
DR LIZANE WILSON (Voorkoming en Intervensie op die Gebied van Seksuele Mishandeling van Kinders) Kindermishandeling in al sy vorms is ʼn wêreldwye probleem en die seksuele misbruik van kinders is ʼn groeiende bekommernis in Suid-Afrika. Hierdie fenomeen het op die lange duur ʼn impak op die slagoffer, die gesin en die samelewing. Die emosionele, sielkundige, en fisieke trauma wat deur slagoffers van seksuele geweld ervaar word, kan maande, jare en selfs ʼn leeftyd lank voortduur. Kinders in hoërisiko-areas het ʼn groter risiko vir seksuele misbruik. Hierdie navorsing fokus op die voorkoming van die seksuele misbruik van kinders, spesifiek in hoërisiko-areas, en op intervensies met kinderslagoffers van seksuele misbruik.Fokus Areas