Oor ons

Hierdie navorsingsentiteit het in 1999 tot stand gekom, toe die eerste fokusareas, op grond van bewese navorsingsuitsette, geïdentifiseer is. Gedurende die eerste vyf bestaansjare, het ‘n aantal omwentelinge plaasgevind, onder andere ‘n naamsverandering, ‘n herfokus en tot ‘n seker mate ‘n verskerpte fokus binne die navorsingsprogramme. ‘n Nuwe direkteur, Prof J du Plessis, word ook in 2004 aangestel.

In 2006 word ons status tot Navorsingseenheid verhoog. Sedertdien het ons voortgebou op die uitbouing van navorsingsprogramme, die ontwikkeling van jong akademici in onafhanklike navorsers sowel as die uitbreiding van kapasiteit binne ons navorsing. In 2013 voldoen ons aan die vereiste kriteria vir ‘sentrum van uitnemendheid’, wat dan ook die hoogste entiteitsvlak binne die NWU se navorsingsentiteit-model is.

Die Sentrum van Uitnemendheid vir Farmaseutiese Wetenskappe (Pharmacen™) is op die voorpunt van Farmaseutiese- en Innovasiesentra in Suid-Afrika. Ons visie is om ‘n internasionaal erkende rolspeler en leier op die gebied van geneesmiddelnavorsing en ontwikkeling in Afrika te wees. Ons missie is uitnemendheid in navorsing met die verwering van nuwe wetenskaplike kennis, asook om ons navorsingsbevindinge in die ontwikkeling van nuwe farmaseutiese produkte en tegnologie toe te pas.

Pharmacen™ bestaan tans uit drie navorsingsprogramme, naamlik Neurowetenskappe en neuroterapie, Geneesmiddelontdekking en Geneesmiddelaflewering. Elk van hierdie programme beskik oor ‘n MSc sowel as ‘n PhD program, wat geassosieer word met Farmaseutika, Farmakologie en Farmaseutiese Chemie, met ander woorde die natuurwetenskaplike modules van die Farmasie kurrikulum.

Lees meer hieroor

Pharmacen™ onderskei homself op grond van die feit dat ons oor 18 NNS geëvalueerde navorsers beskik. Daar is nie net ‘n merkbare vermeerdering in die hoeveelheid navorsers wat evaluering behaal nie, maar ook ‘n beduidende verhoging in die vlak van evaluering. Pharmacen™ beskik tans oor een A-, een B-, elf C- en vyf Y-geëvalueerde navorsers.