Maatskaplike Werk

 

Wat is Maatskaplike Werk?

Maatskaplike Werk is ’n professie. Dit beteken dat jy spesiale vakkundige opleiding moet ondergaan, voordat jy as ’n maatskaplike werker mag praktiseer. Die werk sluit in ʼn variasie van dienste aan individue, groepe en gemeenskappe. Professionele dienslewering dek ’n wye verskeidenheid vraagstukke. Mense word gehelp om hulself te help.

Wat behels ʼn Baccalaureus van Maatskaplike Werk?

Die Maatskaplikewerk-professie benodig talentvolle jong mense om te help ontwikkel aan Suid-Afrika se kosbaarste bron – sy mense. Vir hierdie kwalifikasie word een (1) program op al drie kampusse aangebied. Dit gee aan jou ʼn professionele kwalifikasie waarmee jy by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe kan registreer. Die doel van hierdie program is om studente op te lei om as maatskaplike werkers terapeutiese en ontwikkelingswerk te verrig en om die onderskeie rolle van die maatskaplike werker, soos deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe vereis, effektief te vervul.

Wyse van aanbieding en duur van die program.

Gedurende die vier jaar van voorgraadse studie bekom jy ervaring in ʼn verskeidenheid van maatskaplike werk omgewings wat kinder- en jeugsentrums en nie-winsgewende organisasies insluit. Jy ervaar verder metodes in maatskaplike werk wat gevallestudies, groepswerk, gemeenskapswerk, bestuur en navorsing omvat.

Oorsigtelik:

  • Hierdie is 'n voltydse kwalifikasie wat oor vier jaar strek
  • Jy doen praktiese werk vanaf die tweede jaar
  • In jou 4de jaar doen jy 'n 3-maande internskap
  • Tydens jou 2de jaar registreer jy by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe as ʼn student maatskaplike werker.

Gedurende die 4 jaar doen jy praktiese ervaring op deur blootstelling aan verskillende diensvelde:

  • Kinder- en gesinsorg
  • Werk met gesinne
  • Werk met bejaardes
  • Gemeenskapswerk
  • Groepwerk

Wat is die toelatingsvereistes vir die graad?

  • Niemand word tot die studie van die B MW-graad toegelaat tensy hy/sy skriftelike kan bewys dat hy/sy nie skuldig bevind is aan 'n misdryf teen 'n kind in terme van die Wet op 58 Seksuele Misdrywe (Wet 23 van 1957) en die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (Wysigingswet 32 van 2007) nie.
  • Student moet oor ʼn volle Matrikulasievrystellingsertifikaat beskik.
  • APS-telling: Die vereiste APS-telling is 28. (Die resultate behaal in Lewensoriëntering word nie in berekening gebring nie.).
  • Taalvereiste: ʼn Slaagsyfer van 50-59% (vlak 4) in die taal van leer en onderrig op Huistaal- of Eerste Addisionele Taalvlak.

    Kontakpersoon:
    Me Aney van Aswegen
    Epos

    Dr Tasleem Sayed
    Epos

    Dr Tuelo Masilo
    Epos

Nagraadse studies. 

Suksesvolle voltooiing van die program verleen toegang tot die meestersgraad in Maatskaplike Werk. Toelating is egter onderhewig aan ʼn keuringsproses en beskikbare kapasiteit in die vakgroep.

Beroepsmoontlikhede.

Beroepe in die staatsdiens (SAPD, SANDF, DSD), privaatsektor (privaatpraktyk) of  in die akademie is moontlik.  Ander instansies soos nie-winsgewende organisasies (kinderwelsyn, NG-welsyn ens), kerke, skole en groter maatksappye maak ook van dikwels van maatskaplike werkers gebruik.