Studeer Aptekerswese

 

1. Wat is Farmasie?

Die aptekersberoep is ’n dinamiese, informasiegedrewe, pasiëntgeoriënteerde professie wat verantwoordelikheid aanvaar vir medisyne in al sy fasette deur op te tree as:

  • Toesighouer van medisyne;
  • Formuleerder, vervaardiger, verspreider en kontroleur van veilige, effektiewe en kwaliteit medisyne;
  • Adviseur oor die veilige, rasionele en toepaslike gebruik van medisyne;
  • Voorsiener van essensiële kliniese dienste, insluitende siftingstoetse en verwysingsdienste;
  • Verskaffer van gesondheidsorg-opvoeding en inligting;
  • Voorsiener van farmaseutiese sorg deur verantwoordelikheid te aanvaar vir die uitkoms van terapie en deur aktief betrokke te wees by die ontwerp, implementering en monitering van farmaseutiese sorg planne; en
  • Voorsiener van koste-effektiewe en doeltreffende farmaseutiesedienste.

 

2. Wat behels ʼn kwalifikasie in Farmasie?

Om studente met kennis, vaardighede en bevoegdhede toe te rus sodat hulle as lede van ’n gesondheidsspan in staat sal wees om professionele farmaseutiese dienste te lewer. Na suksesvolle voltooiing van die program en die vereiste internskap moet aptekers oor die volgende bevoegdhede beskik:

  • Organisasie en kontrole van die vervaardiging, verpakking en gehalteversekering van farmaseutiese produkte;
  • Organisasie en kontrole van die verkryging, berging en verspreiding van farmaseutiese materiaal en produkte;
  • Resepteer en verseker die optimale gebruik van voorgeskrewe medisyne;
  • Verskaf aptekersgeïnisieerde behandeling van pasiënte en verseker die optimale gebruik van medisyne;
  • Verskaf opvoeding en inligting oor gesondheidsorg en medisyne;
  • Bevorder gemeenskapsgesondheid en verskaf verbandhoudende inligting en advies; en
  • Neem deel aan navorsing om die optimale gebruik van medisyne te verseker.

 

3. Beroepsmoontlikhede.

Die jong gekwalifiseerde apteker het ’n wye keuse van beroepsmoontlikhede afhangende van sy/haar eie voorkeure, dit sluit in die bekende gemeenskapsaptekerswese, hospitaalaptekerswese (privaat en publiek) en die Farmaseutiese vervaardigingsbedryf. Ander beroepsmoontlikhede behels onder andere groothandelaptekers, gesondheidsorgbestuur, medisyne beheer-beamptes, ens. Hierdie poste bestaan onder andere by mediese fondse, plaaslike owerhede, sentrale regering, ens. Navorsingsposte bestaan ook by universiteite en kolleges sowel as die MNR, dus ’n verskeidenheid uiteenlopende beroepe wat by jou persoonlike voorkeur sal pas.

4. Wyse van aanbieding en duur van die program.

Die program word voltyds aangebied en strek oor vier (4) jaar. Ná verwerwing van die graad en voordat studente by die Suid- Afrikaanse Aptekersraad as aptekers geregistreer kan word, moet ’n jaarlange internskap by ’n gemeenskapsapteek, ’n hospitaalapteek of in die farmaseutiese industrie deurloop word. Studente kan ook ’n akademiese internskap (gewoonlik 2 jaar) aan die Universiteit voltooi waartydens die suksesvolle studente ’n Meestersgraad verwerf. Na internskap (gewoon of akademies) en die suksesvolle aflegging van ’n toelatingseksamen, registreer studente as apteker. Nuut gekwalifiseerde aptekers is volgens wet verplig om een jaar gemeenskapsdiens te verrig, voordat hulle die algemene arbeidsmag mag betree.

 

5. Wat is die toelatingsvereistes vir die graad?

  • Nasionale Senior Sertifikaat met universiteitstoelating;
  • Wiskunde vlak 5 (60-69%)
  • Fisiese Wetenskap op vlak 5 (60-69%);
  • ’n APS-telling van minstens 32

Taalvereiste: ʼn Slaagsyfer van 50-59% (vlak 4) in die taal van leer en onderrig op Huistaal- of Eerste Addisionele Taalvlak

6. Wat is die keuringsproses vir die graad?

  • Voltooi aansoekvorm vir toelating tot die Universiteit (verskaf graad 11 finale punte) voor einde Junie.
  • Alle aansoekers moet hul Junie graad 12-punte aanstuur na me Hannelie Nortje in die kantoor van die BPharm Programbestuurder by:  
  • Hannelie.Nortj@nwu.ac.za (e-pos) of 087-231 5429 (faks).

LET WEL: Indien ons nie u Juniemaand graad 12-eksamenpunte teen die einde van die 2de week in Augustus (of so spoedig moontlik daarna sodra die punte bekend is) ontvang het nie, aanvaar ons dat u nie meer belangstel om Farmasie by die NWU te kom studeer nie.

  • Voorlopige keuring” van 160 nuweling kandidate word gedurende die 3de week van Augustus gedoen, waartydens die aansoekers se:
  • Junie-eksamenpunte (graad 12) – hoofsaaklik eksamenpunte vir Wiskunde en Fisiese Wetenskap en APS-telling gebruik word om ʼn kwantitatiewe keuringspunt te bereken.
  • Vervolgens word alle kandidate se keuringspunt gerangskik van hoogste tot laagste en die top 160 (+10%) aansoekers word op die “voorlopige” keuringslys geplaas.
  • Suksesvolle aansoekers word in kennis gestel van die uitslag van die keuringsproses (via SMS en/of e-pos).
  • Keuring word eers gefinaliseer sodra die finale matriekuitslae (gewoonlik vroeg in Januarie) beskikbaar is.

7. Nagraadse studies.

Na die voltooiing van hierdie graad, sal jy in staat wees om voort te gaan met ʼn:

  • Nagraadse studie in die Sentrum van Uitnemendheid vir Farmaseutiese wetenskappe MSc in Farmaseutiese Chemie / Farmakologie /Farmaseutika
  • PhD in Farmaseutiese Chemie / Farmakologie /Farmaseutika
  • Nagraadse studie in die nisarea: Medisyneverbruik in Suid-Afrika MPharm in Farmasiepraktyk en ʼn PhD in Farmasiepraktyk.