Projekte

 

Liggaamsamestelling en fisieke aktiwiteit by 6- tot 8-jarige kinders

Die epidemie van vetsug in Suid-Afrika is aan die toeneem. Dit is ook by ’n jonger ouderdom waarneembaar as dekades gelede. Die doel van hierdie studie is om deur middel van isotoopaanwending die fisieke aktiwiteitsvlakke en liggaamsamestelling, tesame met energieverbruik, by 6- tot 8-jarige kinders te bepaal.

HO prof A Monyeki (andries.monyeki@nwu.ac.za)

Vergelyking tussen kardiorespiratoriese en hematologiese response asook uithouprestasie tussen elite atlete en fietsryers ná ’n gekombineerde uithou- en inspiratoriese spieroefeningsprogram (IMT-program)

Daar is talle teenstrydige resultate ten opsigte van IMT. Geen ondersoek is ook tot dusver gedoen wat die moontlike voordele van IMT tussen twee verskillende groepe uithou-atlete of die moontlike invloed van IMT op die wisseling in hartklop (HRV) van uithou-atlete vergelyk het nie. Daarbenewens is daar steeds groot onsekerheid ten opsigte van die nuttigheid van hartklopwisseling as ’n maatstaf om die aërobiese kinetika en kapasiteit van uithou-atlete te bepaal.

Dit is teen hierdie agtergrond en die tekortkominge ten opsigte van bestaande navorsing dat die doelwitte van hierdie projek is om die uitwerking van ’n ses weke lange uithouvermoe en IMT-program vergeleke met slegs ’n uithouvermoe-oefenprogram, op geselekteerde kardiorespiratoriese en hematologiese response te bepaal, asook om die uithouprestasie van uithouvermoe-atlete; kardiorespiratoriese en hematologiese response en die uithouprestasie tussen elite middel- en langafstandatlete en fietsryers ná ’n ses weke lange gekombineerde uithouvermoe-oefening- en IMT-program te vergelyk; veranderings in HRV-parameters as gevolg van ’n inkrementele V̇O2max-toets by manlike amateur uithouvermoe-atlete en padfietsryers te bepaal; te bepaal of HRV tydens ’n inkrementele toets gebruik kan word om die ventilasiedrempel 1 (VT1) en 2 (VT2) by manlike amateur-uithouvermoe-atlete en padfietsryers te beraam; die beduidendheid, toereikendheid, akkuraatheid en nuttigheid van HRV-parameters te bepaal om as voorspellers van manlike amateur-uithouvermoe-atlete en padfietsryers se aërobiese kapasiteit en kinetika te dien.

HO prof Ben Coetzee (ben.coetzee@nwu.ac.za)

Kognitiewe funksionering by spansportdeelnemers

Wetenskaplike navorsing toon dat beter kognitiewe vermoëns aan atlete ’n mededingingsvoordeel verskaf. Kognitiewe vermoëns soos aandag (dikwels ook fokus of konsentrasie genoem), situasiebewustheid en besluitneming is ’n paar van die hoërorde- kognitiewe funksies wat deur NeuroTracker-opleiding verbeter kan word. Oor die algemeen sal die projek poog om die vlak van die kognitiewe vermoëns van spansportdeelnemers te ondersoek, die effek van NeuroTracker-opleiding op hulle kognitiewe vermoëns vas te stel, posisionele verskille van spelers se kognitiewe funksionering te ondersoek, asook na die oordrageffek van NeuroTracker-opleiding op werklike, sportspesifieke situasies te kyk. Ons gaan probeer om deelnemers van die volgende spansporte te betrek: netbal, rugby, veldhokkie en sokker.

HO prof Ankebe Kruger en mnr Retief Broodryk (Ankebe.Kruger@nwu.ac.za of Retief.Broodryk@nwu.ac.za)

 

Die ontwikkeling van ’n instrument vir motoriese prestasie en fisieke fiksheid (PERF-FIT) vir gemeenskappe met beperkte hulpbronne

Kinders leer steeds verskillende motoriese prestasievaardighede soos huppel, hardloop, gooi, spring en balansering wat hulle motoriese ontwikkeling sal verbeter. Vir sommige kinders met motoriese agterstande neem hierdie vaardighede egter langer om te ontwikkel, indien dit ooit gebeur. Die hoofdoel van hierdie projek is om ’n bydrae te lewer tot die vasstelling van die geldigheid van die PERF-FIT deur dit met verskillende gestandaardiseerde toetsbatterye te vergelyk. Hierdie bevindings, tesame met die gebrek aan bevindings in ’n Suid-Afrikaanse konteks, dra by tot die belangrikheid om ’n instrument te ontwerp wat in Suid-Afrikaanse gemeenskappe geïmplementeer kan word om Suid-Afrikaanse normwaardes te identifiseer.

Die PERF-FIT-toetsbattery sal ontwikkel word om ’n stel geldige, betroubare, haalbare en goedkoop veldgebaseerde motorieseprestasie-items te verskaf vir die evaluering van gesondheidsverwante fisieke fiksheid by kinders in gemeenskappe met beperkte hulpbronne. Deur ’n groep kinders tussen die ouderdom van 6 en 12 jaar te selekteer wat in areas met min hulpbronne woon, wil ons die voorgestelde instrument ten opsigte van geldigheid en betroubaarheid toets. In hierdie geldigheidnavorsingstudie met ’n bekende groep sal daar van kinders verwag word om take uit te voer wat lokomotoriese, manipulerings-, balanseer- en anaërobiese aktiwiteite insluit. Ons verwag om uit hierdie studie gestandaardiseerde metings vir motoriese prestasie en fiksheidsvlakke vir kinders tussen die ouderdom van 6 jaar en 12 jaar te vergelyk wat as uitkomsmetings toegepas kan word om vroeë motoriese gebreke of agterstande by kinders in areas met min hulpbronne op te spoor en te identifiseer. Hierdie projek sal in samewerking met die UK uitgevoer word.

HO prof Dané Coetzee (dane.coetzee@nwu.ac.za)

Uitwerking van ’n oefeningintervensie by persone met major depressie

Oefening as behandeling vir depressie lewer soortgelyke voordele as die gebruik van medikasie. Huidige bewyse is egter gegrond op depressietellings wat met behulp van vraelyste ingesamel is. Daar bestaan geen literatuur oor die uitwerking van ’n oefeningintervensie op die biologiese merkers van depressie en die verwantskap met depressievraelyste nie. Die doelwitte van hierdie studie is om die verwantskap te bepaal tussen fisieke aktiwiteit, fiksheid, en die depressiewe toestand, en geselekteerde biomerkers van depressie by individue wat vir major depressie behandel word, asook die uitwerking van ’n oefeningintervensie op fisieke aktiwiteit, fiksheid en ’n depressiewe toestand, en geselekteerde biomerkers van depressie by individue wat vir major depressie behandel word en as lig tot matig geklassifiseer is soos dit met die Beck’s Depression Inventory Scale (BDI) (telling = 10–29) gemeet is.

HO prof Hanlie Moss (hanlie.moss@nwu.ac.za)

 

Voorkoms van beserings- en kondisioneringsprotokolle by netbalspelers: Die netbalstudie

Netbal is ’n wêreldwye, toenemend-gewilde sport wat deur amateurs en professionele persone van beide geslagte regoor ’n groot deel van die spelers se leeftyd beoefen word. Tog is die omvang en voorkoms van spesifiek netbalbeserings in die onderste ledemate aan die toeneem en kom baie algemeen voor. Meer nog, die kondisionerings-, moniterings- en fiksheidsprotokolle wat tans in netbal toegepas word om prestasie te bevorder en die risiko van beserings te verminder, word bevraagteken. Navorsing oor bogenoemde is eweneens beperk. Die doel van hierdie studie is dus om die voorkoms van geselekteerde netbalbeserings in die boonste en onderste ledemate met betrekking tot spesifieke moniterings-, kondisionerings-, oefening- en fiksheidsprotokolle in netbal by jong vroulike netbalspelers, asook die effek van ’n oefeningintervensie oor hierdie veranderlikes, te ondersoek. Hierdie studie sal ’n verewekansigde gekontroleerde studie onder jong, vroulike amateur- en elite-netbalspelers wees.

HO dr Henriëtte Hammill (12782211@nwu.ac.za)

Dr Yolandi Willemse (10840249@nwu.ac.za)

 

Interne en eksterne monitering van prestasie, herstel en slaap tydens ’n toernooi (IEMPReST-studie)

Deelname aan sport op kollegevlak het geweldig toegeneem en het gelei tot atlete wat voordele in opleiding en mededinging soek om aan hulle ’n voordeel bo hulle teenstanders te gee. Die deelname aan ’n toernooi stel groot fisiologiese, sielkundige en fisieke eise aan atlete, veral as die kompetisies slegs ’n paar dae uit mekaar plaasvind. In hierdie verband word herstel beskou as ’n noodsaaklike komponent van hulle daaglikse oefenprogram om die terugkeer na die spel te bespoedig. Hierdie studie sal poog om eerstens die effek van ’n sporttoernooi op die fisiologiese, fisieke en sielkundige toestand van ’n groep kollegevlak-atlete te evalueer, en tweedens, om te evalueer of die implementering van twee herstelstrategieë (slaaphigiëne en pneumatiese kompressieterapie) hulle interne en eksterne prestasie-aanwysers moontlik kan verhoog. Dit kan aan atlete en hulle bestuurspanne moontlik toereikende hulpbronne verskaf om prestasie te bevorder en die risiko van beserings te beperk.

HO dr Adéle Broodryk (Adele.Broodryk@nwu.ac.za)

 

NW-CHILD-studie: ’n Longitudinale ontleding van gesondheidsrisikofaktore, groei en ontwikkeling onder 7- tot 13-jarige kinders

Hoewel talle pogings al aangewend is om die gesondheid en welstand te verbeter van mense wat in Suid-Afrika woon, bestaan daar talle uitdagings ten opsigte van die gesondheid en optimale ontwikkeling van die 18,3 miljoen kinders wat in hierdie lae- tot middelinkomsteland grootword. Gesondheidsrisikofaktore onder pediatriese bevolkings, byvoorbeeld die toenemende sittende gedrag, gebrek aan motoriese en fisieke fiksheid, vertraging in groei, en die ontwikkeling van nie-aansteeklike siektes soos vetsug en hoë bloeddruk, het ’n beperkende uitwerking op verskillende ontwikkelingsgebiede van die kind, met langtermyngevolge. Agterstande in motoriese vaardighede, fisieke fiksheid en wanvoeding met verwante skolastiese probleme beïnvloed psigomotoriese, emosionele en sosiale ontwikkeling, en het ’n negatiewe uitwerking op hulle lewensgehalte. Die navorsing was daarop gemik om oor ’n tydperk van ses jaar (ouderdom 7–13 jaar) die longitudinale uitwerking van gesondheidsrisikofaktore te bepaal. Dit het faktore soos hoërisiko-omgewings en verwante swak groei en ontwikkeling, toenemende vlakke van hoë bloeddruk, oorgewig en vetsug, sittende gedrag en voedingstekorte ingesluit. Agterstande in motoriese vaardighede en die langtermynuitwerking wat dit op fisiese aktiwiteit en skolastiese sukses het, is ook ondersoek.

Die NW-CHILD longitudinale studie is ’n gestratifiseerde ewekansige steekproef wat by basislyn begin het met meer as 800 deelnemers wat in Noordwes in Suid-Afrika woon, en het twee herhaalde metings van gesondheidsrisikoveranderlikes en motoriese bevoegdheid oor ’n sesjaartydperk (2010, 2013, 2016) ingesluit. Basislynmetings is in 2010 uitgevoer (graad 1-leerders, M = 6,78+0,49 jaar), met die eerste opvolgmetings in 2013 (graad 4-jaar, 574), en finale metings in 2016 (graad 7-jaar). Gestandaardiseerde metings en vraelyste is gebruik en die resultate is op ’n deurlopende basis met behulp van die Statistica for Windows/SAS-programme ontleed. Die uitkomste van die studie sal tot voordeel wees van kinders se huidige maar ook toekomstige gesondheid, aangesien bestaande kennis oorgedra kan word na voorkomende programme, strategieë en die ontwikkeling van risikomerkers wat ’n voorkomende rol in gesondheids- en ontwikkelingsprobleme by kinders kan speel.

HO prof A Pienaar (anita.pienaar@nwu.ac.za)

 

Fisiologiese en fisieke prestasie-aanwysers by manlike en vroulike veldhokkiespelers

Verskeie veranderings in die reëls is oor die afgelope dekade deur die Fédération Internationale de Hockey (FIH) geïmplementeer, met die betekenisvolste die reël oor ’n selfaangee vanaf ’n vryhou, onbeperkte plaasvervangers, en ’n verandering in die formaat van twee 35-minuut-helftes na vier 15-minuut-kwarte. Die doel van bogenoemde veranderings in die reëls was om die intensiteit van wedstryde te verhoog, maar beperkte literatuur is tans beskikbaar om te bevestig of hierdie veranderings doeltreffend was om die intensiteit te verhoog. As gevolg van die formaat van die verandering in hokkie kan ons hipotetiseer dat die eise van die wedstryd ook verander het, wat waarskynlik veranderings sal vereis in die manier waarop spelers tydens afrigting vir wedstryde moet voorberei. Die fisieke eienskappe en komponente wat ook tot suksesvolle wedstrydprestasies bydra, het ook ondersoek nodig. Indien die eise van hokkiewedstryde verander het, sal dit navorsers noop om vas te stel of die huidige evalueringsinstrumente steeds relevant is om die fisieke eienskappe te bepaal wat nodig is om optimaal tydens wedstryde te presteer.

HO prof Martinique Sparks (martinique.sparks@nwu.ac.za)

 

Vermindering van ouderdomsverwante inkorting in die kognitiewe en motoriese funksionering van bejaardes

Die algemene bevolking is besig om ouer te word as gevolg van ’n langer lewensverwagting en verbeterings in mediese behandeling en tegnologieë. Hierdie toename in die verouderende bevolking plaas ’n toenemende las op gesondheidstelsels. ’n Groot korpus bewyse ondersteun die rol van gereelde fisieke aktiwiteit om verskeie nie-aansteeklike siektes te bestry. By die verouderende bevolking neem fisieke aktiwiteit egter teen ’n vinnige koers af. Daar kan talle redes daarvoor wees, maar die vermoë om die aktiwiteite van die daaglikse lewe uit te voer, is direk aan die motoriese en kognitiewe funksionering van ’n individu verwant. In vorige navorsing is getoon dat hierdie vermoë met ouderdom afneem en bydra tot ’n vermindering in daaglikse aktiwiteite, wat fisieke aktiwiteit en oefening insluit. Die doel van hierdie projek is om die verwantskap tussen perseptueel-kognitiewe opleiding, motoriese leer en verbeterings in prestasie by bejaardes te ondersoek.

HO prof Stanislaw Czyz e-pos: stachu.czyz@gmail.com

 

Verwantskap tussen die groei-eienskappe, fisieke aktiwiteit en neuromotoriese mylpaalontwikkeling van 6 tot 12 maande oue babas uit verskillende sosio-ekonomiese agtergronde in Noordwes: GrowActive-Infant-studie

Die eerste duisend dae vanaf geboorte, veral die eerste 12 maande ná geboorte, word beskou as ’n unieke geleentheid om ’n vaste basis vir ’n baba se algehele ontwikkeling te vestig. Tydens hierdie periode neem die kompleksiteit van ’n baba se bewegings toe, en hulle pas aan en ontwikkel strategieë vir verskillende lewensituasies, wat die weg berei vir die ontwikkeling van goed gekoördineerde motoriese vaardighede. Hoewel daar goed gedefinieerde tydsraamwerke is waarop babas sekere mylpale behoort te bereik, speel verskeie faktore soos groei, fisieke aktiwiteit (PA), motivering om te ondersoek, geleenthede, die nodige stimulasie, en die omgewing ’n beduidende rol in die ontwikkeling van babas. Die doel van hierdie navorsingstudie is om die effek te bepaal van moontlike antropometriese groei (kop- en boarm-omtrek, gewig, lengte, armlengte, arm-reikwydte, beenlengte en sithoogte) en verskille in PA-patrone (baba-aktigrafiekActigraph) op die neuromotoriese mylpaalontwikkeling (refleks-, stilstand-, lokomotoriese, objekmanipulerings-, gryp-aksie-, visueel-motoriese mylpale) van 6 tot 12 maande oue babas uit verskillende sosio-ekonomiese omstandighede.

Die GrowActive-Infant-studie is ’n deursneestudie wat beskikbaarheidsteekproewe uit areas binne die Potchefstroomgebied in Suid-Afrika insluit. Die doel van die studie is om ’n minimum van 100 babas in elke maandgroep (6, 7, 8, 9, 10, 11 en 12 maande) in te sluit, met 50 babas uit hoë en 50 babas uit lae SES-gebiede, met ’n minimum van 700 babas. Daar word beplan om in Februarie 2020 met metings te begin. Gestandaardiseerde metings en vraelyste sal gebruik word en die resultate sal op ’n deurlopende basis met behulp van die Statistica for Windows/SAS-programme ontleed word. Die uitkoms van die studie sal die huidige maar ook die toekomstige gesondheid van babas bevoordeel, aangesien kennis wat verkry word, lig sal werp op die moontlike invloed wat ingekorte of gevorderde groei en PA-patrone op babas se neuromotoriese mylpaalontwikkeling het. Inligting ten opsigte hiervan kan voorts help met die beplanning en implementering van doeltreffende intervensies om babas te help om hulle mylpale optimaal te bereik en PA by kinders te bevorder, wat vetsug by babas kan verminder.

HO mnr Barry Gerber (barry.gerber@nwu.ac.za)

 

Die studie van oefening, arteriële modulasie en voeding by die jeug in Suid-Afrika (ExAMIN Youth SA) onder 6- tot 8-jarige kinders

Die huidige wêreldwye voorkoms van vetsug en vroeë kardiovaskulêre agteruitgang is twee van die belangrikste toekomstige uitdagings in gesondheidsorg. Fisieke onaktiwiteit en die verwante ongesonde diëte onder adolessente is ’n groot bekommernis, veral in die Suid-Afrikaanse omstandighede waar geen monitering tans gedoen word om die impak van ’n sittende en ongesonde leefstyl op kardiovaskulêre gesondheid te beskryf nie. Hierdie voorgestelde studie sal belangrik wees om die kritieke areas te hanteer waar ongunstige arteriële modulasie ten opsigte van dieetgedrag en fisieke aktiwiteit waargeneem word, en om toepaslike toekomstige intervensies te beplan om gesonde veroudering te optimaliseer deur geteikende biomerkers te implementeer. Die huidige studie waarvan prof Ruan Kruger van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) die hoofondersoeker is, se doel is om op vorige bevindings voort te bou deur potensiële bydraende faktore te identifiseer wat gesondheidsuitkomste van Suid-Afrikaanse kinders negatief kan raak. Daarbenewens wil die studie data oor hierdie gesondheidsuitkomste met dié van internasionale sentrums vergelyk. Die fokus van hierdie studie is kinders tussen die ouderdom van 6 en 8 jaar en sluit verskeie motoriese en fiksheidstoetse in. Prof Anita Pienaar van FASRek in die Skool vir Menslike Bewegingskunde is ’n mede-ondersoeker in hierdie projek en is as deel van die projek vir die fisieke en motoriese metings verantwoordelik. Die basislynmetings is afgehandel en verskillende fisiese en motoriese toetse op ’n substeekproef van 661 skynbaar gesonde kinders wat in die Potchefstroom- en Klerksdorp-areas van Suid-Afrika woon, is ingesluit.

Prof Anita Pienaar (anita.pienaar@nwu.ac.za)

 

Die invloed van skoolsakke en die fisieke en funksionele gesondheid van kinders van graad 3 tot graad 11 in die Tlokwe Munisipaliteit

Die negatiewe impak van die dra van ’n swaar skoolsak is wêreldwyd ’n bekommernis vir ouers. Hierdie navorsingsprojek behels die waarneming van kinders in graad 3 wat in Noordwes woon en rugsakke skool toe dra. Die massa van die skoolsak, die verandering in die postuur wanneer die kind die sak dra (gelaaide fase) en nie die sak dra nie (ongelaaide fase) sal digitaal opgeteken word. ’n Vergelykende ontleding sal gemaak word tussen optekening met die hand van spesifieke gesamentlike versus elektroniese beelde wat vasgelê word. Kinantropometriese metings van liggaamsimmetrie sal gebruik word om vas te stel of die dra van rugsakke op skouers posturale simmetrie produseer. Ander faktore wat die gesondheid van die kind beïnvloed, sal ook gemeet word, byvoorbeeld daaglikse fisieke aktiwiteit (deur ’n Fitbit-horlosie en ’n vraelys gemeet) en die impak wat die dra van ’n skoolsak op die kind se longkapasiteit het. Die doelwit is om vas te stel of die dra van swaar skoolrugsakke ’n negatiewe impak op die kind se gesondheid het. Die studie sal die deelnemers volg wanneer hulle in graad 7 en uiteindelik in graad 11 is.

HO dr Terry Ellapen (28309308@nwu.ac.za)

 

 

Die eksterne en interne wedstrydeise op die gereedheid van Ultimate Frisbee-spelers om tydens deelname aan ’n toernooi te presteer

Hoewel Ultimate Frisbee een van die snelgroeiendste sportsoorte ter wêreld is, met ’n toename in die getal deelnemers van ongeveer 31% vanaf 2017 tot 2018 in die Verenigde State van Amerika alleen, het slegs ’n paar navorsers tot op datum die fisieke uitdagings van Ultimate Frisbee tydens ’n wedstryd ondersoek. Dit is onduidelik of die interne en eksterne eise van Ultimate Frisbee-wedstryde wat in Suid-Afrika gespeel word dieselfde eise aan spelers sal stel as aan hulle internasionale eweknieë. Navorsers beweer voorts dat toekomstige navorsing ook meer kwantifiseerbare data soos hartklopwisseling (HRV) en ander metings moet insluit sodat die potensiële meganismes wat uitputting veroorsaak, beskryf kan word. Dit is teen hierdie agtergrond en tekortkominge ten opsigte van bestaande navorsing dat die doelwitte van hierdie projek is om die eksterne en interne wedstrydeise van Ultimate Frisbee tydens deelname aan ’n toernooi vas te stel; die invloed wat eksterne en interne wedstrydeise het op die gereedheid van Ultimate Frisbee-spelers om tydens deelname aan ’n toernooi te presteer; en die invloed van ’n voorkompetisie-dieet, hidrasiestatus, slaapkwaliteit en -kwantiteit, asook gemoedstoestand op die interne stres, gereedheid om te presteer, en neurologiese funksionering van Ultimate Frisbee-spelers tydens ’n toernooi.

HO dr Christo Bisshoff (bisschoff.christo@nwu.ac.za)

 

Die volhoubaarheid van deelname aan fisieke aktiwiteit en voedingsopvoeding deur die gebruik van ’n mobiele toepassing

Volhoubare fisieke-aktiwiteitsintervensie en voedingsopvoeding is ’n doelwit vir talle persone wat op die gebied van gemeenskapsgesondheid werk.  Hierdie navorsingstudie sal ’n mobiele toepassing ontwikkel om gemeenskapsgesondheidswerkers te help om ’n fisieke-aktiwiteitsintervensie te implementeer om hulle ten opsigte van die korrekte voedingsopvoeding te lei.

Die gesondheidswerker-toepassing sal ook gekombineer word met ’n toepassing vir die deelnemers wat wenke en brokkies inligting verskaf om gedragsveranderings by hierdie deelnemers aan te moedig. Die aanvanklike ondersoekfase (die identifisering van die probleem, die ontwikkeling van ’n ontwerpopdrag en die formulering van ’n ontwerpspesifikasie) en die beplanningsfase (die ontwerp en beplanning van die mobiele toepassing) sal uit die ondersoekende (eerste) fase van die studie voortvloei.  Ná die ontwikkeling van die mobiele toepassing sal die intervensie plaasvind en die impak van die intervensie sal getoets word.

HO Chrisna Ravyse (Chrisna.Ravyse@nwu.ac.za).