Oor ons

 

Die navorsingsfokusarea vir Fisieke Aktiwiteit, Sport en Rekreasie (FaSRek) is deel van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Navorsing wat by FASRek uitgevoer word, fokus op die rol wat fisiese aktiwiteit, oefening en ontspanningsaktiwiteite deur die verloop van mense se lewens op motoriese ontwikkeling, gesondheid, voorkoming en bestuur van chroniese siektes, ortopediese beserings en topprestasie in sport het.

Die resultate wat uit die navorsing verkry word, word toegepas in die opleiding van spesialiste in menslike beweging wat biokinetici, kinderkinetici, sportwetenskaplikes en bestuurders van rekreasieprogramme insluit. Gevolglik word die nuwe kennis wat opgedoen word ook gebruik om uitdagings die hoof te bied waarvoor die gemeenskap, die land, die vasteland en die wêreld te staan kom, asook om beleide te beïnvloed oor fisiese aktiwiteit wat met die gesondheid en welstand van die nasie verband hou.

FASRek het drie NNS-gegradeerde navorsers en ’n addisionele elf navorsers met doktorsgrade. Die navorsers van hierdie entiteit word gereken as leiers op die gebied van fisiese aktiwiteit, sport en rekreasie op grond van die internasionale en nasionale aansien wat hulle geniet. Dit word duidelik gesien in die aanhalings in portuurbeoordeelde publikasies, en die nasionale media in elektroniese en gedrukte formaat. Talle van ons navorsers dien op beheerliggame van professionele verenigings en as eksterne eksaminators vir ander universiteite in Suid-Afrika.

 

GESKIEDENIS VAN FASREK

Die navorsingsentiteit vir Fisieke Aktiwiteit, Sport en Rekreasie is in Augustus 2008 gestig.  Daar was aanvanklik drie NNS-gegradeerde navorsers, van wie twee C2-graderings en een ’n Y2-gradering gehad het. Slegs vyf navorsers het op daardie stadium ’n doktorsgraad gehad. Sedertdien het die navorsers tot 33 aangegroei, van wie 60% doktorsgrade het. Vyf navorsers het tans ’n NNS-gradering, met vier op C-vlak en een op Y-vlak.  Die navorsingsentiteit is tans in die tweede plek in Suid-Afrika ten opsigte van die impak van die navorsing wat op die gebied van fisieke aktiwiteit, oefening en sportwetenskap gepubliseer word. Toegang tot die jongste tegnologieë vir data-insameling verseker dat FASRek-navorsing in die agt jaar sedert sy ontstaan verdubbel het. Ons het tans internasionale ooreenkomste en samewerking met navorsers van Australië, die VSA, Europa en talle Afrika-lande.

 

Die strategiese doelwitte van FaSRek is:

  • Om leiers te wees in die produsering van toepaslike navorsing op die gebied van fisieke aktiwiteit, sport en rekreasie in Suid-Afrika.
  • Om kennis wat plaaslik en internasionaal deur middel van navorsing verkry is, te versprei om toekomstige beleide te beïnvloed.


VISIE: Om navorsingsuitnemendheid na te streef deur menslike beweging regdeur die mens se lewensduur te begryp.

MISSIE: Verspreiding van kwaliteitnavorsing wat nasionaal en internasionaal relevant is oor fisieke aktiwiteit, sport en rekreasie regdeur die mens se lewensduur.